Ons Storie
Hulle storie het lank voor hul liefdesverhaal begin.
Van Graad 1 tot Matriek was Sias en Minette in dieselfde klas, hy die klasnar en sy die pliggie. Wat as 'n hegte vriendskap begin het, het op 25 April 2018 in liefde verander toe Sias vir Minette vra om sy meisie te wees. Van daardie dag af het hulle saam die lewe aangepak, deur skool, universiteit en die eerste tree van hul loopbane.
Deur die jare het hulle saam gelag, groot gedroom, uitdagings oorkom en mekaar deur elke seisoen van die lewe ondersteun. Op 30 Desember 2025, op die pragtige duine van Mosambiek, het een van hulle grootste drome waar geword toe Sias vir Minette vra om sy vrou te wees.
Hul verhouding word gekenmerk deur liefde, speelsheid en eindelose pret. Ná al die jare sou die ou klasnar en die pliggie mekaar vir niks in die wêreld verruil nie.
Nou staan hulle op die drumpel van hul mooiste avontuur nog, gereed om saam 'n leeftyd vol liefde, herinneringe en nuwe hoofstukke te skryf.

















